Goukou Plaaswag
Goukou Plaaswag

Gedragskode & Grondwet
Voorkoming van Misdaad in ons Landelike en Dorpsgebiede
Goukou Plaaswag - Gedragskode & Grondwet
Omskrywings & Definisies
  1. Goukou Plaaswag Struktuur (GKP): Dit is 'n allesomvattende woord en sluit alle strukture onder die bestuur van Goukou Plaaswag in.
  2. Plaaswag: Dit bestaan uit 'n groep individue woonagtig en werksaam in die Hessequa-distrik wat gemeenskapsveiligheid ten doel het. Die gebied sluit in al die dorpe en landelike areas en is geleë in die Wes-Kaap.
  3. Erkenning: Dit is die voorgeskrewe proses ingevolge waarvan die organisasie, synde
    • Die name en kontakbesonderhede van komiteelede
    • Die lidmaatskap of lede daarvan,
    • Die grondwet daarvan, en
    • Geouditeerde finansiële state
    deur die plaaslike Gemeenskap Polisieforum (GPF) en die plaaslike Polisiediens opgeteken moet word. Indien die GPF nie bestaan nie of onaktief is, sal dit deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens gedoen word.
  4. Affiliasie by plaaslike GPF: Dit is die amptelike verteenwoordiging van die Plaaswagstrukture en/of Buurtwagte. In die afwesigheid daarvan sal sodanige verteenwoordiging via die plaaslike stasiebevelvoerder van Suid-Afrikaanse Polisiediens hanteer word.
  5. Amptelik: Dit beteken dat die struktuur geregistreer is, en erken word in die gebied.
  6. Nie-polities: Dit beteken dat GKP by geen politieke organisasie geaffilieer is nie, en ook nie enige werk vir 'n politieke organisasie doen of die indruk skep van 'n alliansie ten opsigte van 'n politieke organisasie nie.
  7. Nie-seksisties: GKP mag nie op grond van ras, geslag of seksuele orientasie diskrimineer nie.
Mikpunte
  • Om 'n gevoel van eenheid, toewyding en goeie verhoudings tussen buurmense en onder alle inwoners van die gebied te kweek.
  • Om die gemeenskap aan te moedig tot noue samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens en ander strukture soos plaaslike owerhede wat by wetstoepassing betrokke is.
  • Om te verseker dat GKP-lede binne die raamwerk van die wet optree.
  • Om die diverse inwonersgemeenskap te probeer verenig in die skep van 'n stabiele en misdaadvrye omgewing.
Lidmaatskap
  • Lidmaatskap van GKP moet op die beginsels van nie-rassisme, nie-seksisme en demokrasie gegrond wees.
  • Lidmaatskap moet oop wees vir almal, ongeag van ras, kleur, geloof of ongeskiktheid.
  • Goukou Plaaswag moet hul eie lidmaatskapfooi bepaal. Tans is die ledegeld R30 per maand per lid of R50 per huishouding.
  • Die lederegister moet bygehou word en gereeld bygewerk word. Die register moet elke lid se naam, identiteitsnommer, telefoonnommer en radioroepsein bevat.
  • Elke lid moet 'n vrywaringsvorm onderteken en dit moet op leer gehou word.
  • Elke lid moet Goukou Plaaswag se Gedragskode tesame met die Radionetwerkgedragskode onderteken. Dit moet ook op 'n register aangeteken word met elke lid wat afskrifte van die dokumentasie ontvang.
Vrywaring
  • Goukou Plaaswag is nie 'n regspersoon nie en moet funksioneer binne die riglyne soos uiteengesit in die Wes-Kaapse Provinsiale Grondwet en Gedragskode van Plaas- en Buurtwagstrukture.
  • Die erkenning van vrywaring moet deur elke lid onderteken word.
  • Die vrywaring moet duidelik stipuleer dat Goukou Plaaswag 'n vrywillige organisasie is.
  • Lede van Goukou Plaaswag wat inskakel by die GKP radionetwerk kan so doen onder die voorwaardes en bepalings van die Radiogedragskode wat die vermelde lede onderteken, met vrywaring aan GKP vir enige wangebruik en misbruik deur die bepaalde oortreder vir die diens gelewer.
Aanspreeklikheid
  • GKP is nie 'n regspersoon nie en het sodanig geen magte van watter aard ook al wat regtens kan bestaan, om uit te voer of om op te reageer nie. Alle handelinge vind plaas op 'n vrywillige basis.
  • Alle lede tree in sy/haar eie hoedanigheid op en aanspreeklikheid sal ingevolge daardie hoedanigheid van toepassing wees.
  • GKP struktuur is nie verantwoordelik vir enige siviele en/of strafregtelike daad of versuim van sy lede nie.
  • Alle siviele of strafregtelike aksie teen 'n lid, is teen die lid self en nie teen GKP struktuur nie.
  • Goukou Plaaswag kan nie vir die optrede van 'n lid verantwoordelik gehou word nie, dog kan die lid Goukou Plaaswag vra om bystand van een of ander vorm van regshulp of bystand.
Toerekenbaar
  • Goukou Plaaswag is eerstens aan die SAPD toerekenbaar.
  • GKP is op grond van registrasie by die plaaslike GPF toerekenbaar.
  • Die Provinsiale Grondwet en Gedragskode is bindend op GKP sover dit nie bots met die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika en die verklaring van regte nie.
Affiliasie
  • GKP moet by die plaaslike GPF geaffilieer word ten einde deur die plaaslike SAPD erken te word.
Samestelling
  • GKP moet bestaan uit huishoudings en besighede in duidelik afgebakende areas, wyke, roetes, sones of gebiede.
Logo's en Briefhoofde
  • GKP is by magte om sy eie logo en briefhoof te gebruik om uitvoer te gee aan sy funksies.
  • GKP is gemagtig om sy eie magneet logo's te ontwerp en te gebruik vir identifikasiedoeleindes.
Identifikasiekaarte
  • Alle lede van GKP moet in besit wees van 'n Identiteitskaart.
  • Dit moet 'n eie ontwerp wees en mag nie dieselfde wees as die SAPD-kaart nie.
  • Naam, foto en roepsein moet op die kaart verskyn.
  • Alle kaarte moet geldig wees en erken word deur GKP-strukture.
Oplossing van Geskille
  • Die bestuur van GKP is verantwoordelik om alle geskille op te los.
  • Geskille moet per e-pos/skriftelik aan die bestuur van GKP gelewer word.
  • Indien die geskil nie besleg kan word nie, moet getuies ingeroep word tesame met 'n arbiter vir die saak.
  • Alle geskille se uitslag moet openbaar gemaak word op 'n Algemene Vergadering van die lede.
Gebruik en Beheer van Fondse
  • GKP bly 'n organisasie sonder winsbejag.
  • Volledige inkomste- en uitgawestate moet gehou word. Ledegeldstate moet stiptelik uitgestuur word.
  • Jaarliks moet geouditeerde state opgestel word en dit moet beskikbaar wees vir lede.
  • GKP mag fondsinsamelings hou vir addisionele fondse. Hierdie moet in oorleg met die GPF en SAPD geskied.
Dissiplinere Maatreels
  • Die proses behels: Teregwysing, skorsing en uitwerping na die uitvoer van 'n deeglike ondersoek.
  • Indien enige klagte teen 'n lid ingedien word, moet bogenoemde stappe gevolg word.
  • Alle klagtes moet op skrif by die GKP bestuur ingedien word, daarna moet so vining as moontlik opgetree word en die uitslag bekend gemaak word.
  • Geen persoonlike aanvalle of gesprekvoering sal geduld word op die WhatsApp-groepe van GKP nie en sal beide lede summier verwyder word wat hulself daaraan skuldig maak.
  • Geen konflik sal geduld word op hierdie groepe nie.
Riglyne vir Proses van Samewerking
  • Die Suid-Afrikaanse Polisiediens moet, waar moontlik van sy lede voorsien, of help om te reel dat lede van ander wetstoepassers oor die Plaaswag toesig hou wanneer patrollies of operasies uitgevoer word.
  • Die Departement van Gemeenskapsveiligheid moet goedkeuring gee vir die befondsing van projekte soos versoek deur die Plaaswag wat by die Gemeenskap Polisieforum geregistreer is.
  • Goukou Plaaswag moet die Suid-Afrikaanse Polisie bystaan met die aanwysing van potensiele Polisiereserviste.
  • Goukou Plaaswag se lede moet alle inligting met betrekking tot misdaadvoorkoming en gevangeneming van misdadigers met die Suid-Afrikaanse Polisiediens deel.
Algemene Praktyke en Prosedures
  • Goukou Plaaswag moet gereeld vergaderings hou in alle dorpe in sy bedryfsarea om die plaaslike gemeenskap op hoogte te hou van sy werksaamhede.
  • Tydens 'n siviele arrestasie of bystand aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens geld die Strafproseswet, Wet 51 van 1977 (artikel 49 (1) daarvan) wat as volg lees : " 'n persoon wat sodanig gemagtig is, kan ter uitvoering van die arrestasie, sodanige geweld gebruik as wat onder die omstandighede redelikerwys nodig is om weestand te oorkom of te verhoed dat die betrokke persoon ontvlug."
  • Die Suid-Afrikaanse Polisiediens-lede wat vir die voorkoming van misdaad verantwoordelik is, moet aanvaar dat Goukou Plaaswag 'n vrywillige organisasie is wat dieselfde doel nastreef en dat die gemeenskap aangemoedig moet word om by die Plaaswag betrokke te raak.
  • Die SAPD moet bystand aan Goukou Plaaswag verleen ten einde te verseker dat dit effektief funksioneer binne die wetlike raamwerk waaraan dit onderworpe is.